Sprong byna noodlottig

STREEKSNUUS - Een van die studente van Skydive Oudtshoorn, me. Surene Bruwer is ernstig beseer nadat sy in ’n boom te lande gekom het tydens haar eerste valskermsprong.
Bruwer is ’n bemarker vir Roete 62 en is op Bonnievale woonagtig.

Die groep studente het Sondag ná hul opleiding hulle eerste sprong uitgevoer. Bruwer het ’n perfekte sprong gedoen, maar met haar finale aantog het sy in ’n boom te lande gekom.
Die boom het wel haar val deels gestuit, maar sy het uit die boom geval en twee van haar nekwerwels gekraak.
Die AMS Rooikruis-helikopter is ontbied en Bruwer is dadelik na die George-hospitaal geneem. Sy is later na Grootte Schuur-hospitaal oorgeplaas waar sy ’n operasie ondergaan het.

Volgens mnr. Anthony Malherbe, springmeester van Skydive Oudtshoorn, word die studente deeglik opgelei en ook bewus gemaak van die feit dat valskermspring ’n hoë-risiko sport is. "Dit was egter gerusstellend om te sien dat die valskermklub die voorval met hoë professionaliteit hanteer het. Die AMS-helikopter was binne minute op die toneel nadat dit deur die springmeester ontbied is. ’n Verslag is ook binne enkele ure aan die nodige instansies en organisasies ge-stuur om die voorval aan te meld.

"Uit die aard van die sport is die veiligheidstandaard uiters hoog en alle nodige maatreëls word getref om die veiligheid van valskermspringers te verseker," het hy gesê.
Malherbe, wat al bykans 6 000 spronge agter die blad het, het die versekering gegee dat alle studente aan die nodige veiligheidsmaatreëls voldoen, en goed opgelei is voordat enige sprong gedoen word.
Daar word ook na die weers-omstandighede gekyk om te verseker dat die risiko so klein moontlik sal wees.
"Hierdie was ’n ongelukkige voorval, maar daar is wel ’n risiko aan dié sport verbonde. Skydive Oudtshoorn doen alles om die veiligheid van valskermspringers te verseker," het Malherbe gesê.

Artikel: Jaco Human, Oudtshoorn Courant (susterkoerant van die George Herald)

uploaded image